Na Donker is die ATKV se NUWE kuierplek neffens die “ nie- meer -so -nuut” Hartenbos Seefront ontwikkeling in Hartenbos.

En ons ( ‘n trotse, toegewyde en dankbare span) kan met trots aankondig dat Na Donker uiteindelik reg is om sy deure oop te maak vir besigheid. Dit was ‘n veeleisende projek, maar die bevrediging is hopelik in nederige waardering van die eindproduk.

Die Na Donker projek verteenwoordig onteenseglik die energie en ambisie van ‘n hernieude en byderwetse ATKV. Die ontwerp-uitgangspunt was deurgaans om ‘n gemaklike, moderne, onpretensieuse, dog elegante eet en drink omgewing te skep vir oud en jonk. As jy dink aan “ polfyntjies vir die proe” en “ Die Afrikaners is plesierig” dan is Na Donker net die plek.

Die afwerking is basies, maar onmiskenbaar industrieël. Spoggerige leer banke, ‘n kaggel, imposante hout toonbanke, handgemaakte meubels, treffende illustrasies en ‘n foto joernaal neem besoekers op ‘n nostalgiese reis deur Hartenbos vanmelewe en natuurlik die ATKV-oorde verbintenis.

Die verfkleure, die vloerteëls, die mosaiek van teëls agter die toonbanke en die ligte dra by tot die skep van unieke, eiesoortige en treffende atmosfeer. Met ‘n bietjie verbeelding beleef Hartenbos die weelderige flambojansie van eertydse Kuba en die kleurvolle simboliek van ‘n meditereense leefstyl en omgewing.

Oordeel self…

My opregte waardering aan almal ( sommige met durf ander met daad) wat bygedra het tot die afhandeling van hierdie projek.

Na Donker gaan ongetwyfeld ‘n merk op die onmiddellike omgewing laat. En met reg so….